1 uiteindelik vou ek die verlede toe
2 knyp sy vlerk tussen duim en vinger vas
3 tot hy veilig deur ʼn gleuf in die geskiedenis glip
4 en anderkant
5 wonderbaarlik
6 vry
7 die duif van vrede sy blou vlerke sprei
8 sodat my nuutgebore stem na woorde smag
9 om ʼn lied vir my land
10 soos ʼn vlag aan die tong te laat sweef
11 bo die geruislose val van skanse van die vel
12 sodat ek vry uit die vervreemding tree
13 om in die oë van vergetenes en langverlorenes
14 uiteindelik myself te kan sien
15 soos iemand wat ek nooit geken het nie
16 om aan hulle die hand te gee
17 en te voel hoe vlees en vlees ontmoet
18 want een lyn van bloed loop deur die eeue
19 loop deur die ganse geskiedenis
20 loop deur elke uithoek van die land
21 loop deur my en loop deur jou
22 van Genesis tot nou
TITEL:
• ‘n verwysing na die datum van die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika.