1 Ons is ’n eksieperfeksie gesin.
2 Ek lyk op ’n haar na Ma
3 En Boetie trek op Pa.
4 Eksieperfeksie.
5 Ons is ’n eksieperfeksie gesin.
6 Eet lae-GI-hawermout,
7 groente, vrugte, witvleis en min sout
8 Eksieperfeksie.
9 Ons is ’n eksieperfeksie gesin.
10 Staan soggens op vir gym:
11 swem, Pilates, gewigte, spin.
12 Eksieperfeksie.
13 Ons is ’n eksieperfeksie gesin.
14 Pa en Ma het goeie werk,
15 kinders presteer, en Sondae is dit kerk.
16 Eksieperfeksie.
17 Ons is ’n eksieperfeksie gesin.
18 Ons hou van kuns en maak musiek,
19 word omring deur ’n goeie vriendekliek.
20 Eksieperfeksie.
21 Ons is ’n eksieperfeksie gesin.
22 Net ek word ’n bietjie vet.
23 Ek gaan gereeld na die toilet,
24 druk ’n vinger in my keel en spoel
25 en was en was my hande.
26 Eksieperfeksie.
Uit: Afrikaans sonder Grense, Gr.9 EAT
Kernleesboek.2013