AFRIKAANS TWEEDE ADDISIONELE TAAL
KORTVERHAAL: DIE OOREENKOMS - DALENE MATTHEE
, DIE OOREENKOMS
DALENE MATTHEE
Hulle was soos twee broers wat mekaar eers teen die aand se kant leer ken het: Jakob en Willem.
Hulle was van die eerste intrekkers by die nuwe Rusoord; albei vlak in die sewentig, gesond van liggaam
en verstand, en vasberade om van die laaste skof nog iets te maak. Die kamer wat hulle moes deel, was
aan die sonsy van die gebou, ruim en met huisgoed uit albei se verlede gemeubileer soos toegelaat deur
die reëls van die Bestuur.
Nie dat hulle nie gou geleer het om sommige van die reëls van die Bestuur met 'n bietjie insig te vertolk
nie; byvoorbeeld die reël dat alkohol alleen vir medisinale doeleindes in kamers gehou mag word. Goed
en reg. Daarom het Jakob en Willem elke aand, stiptelik om halfses, die kamerdeur gesluit en hul
medisyne gedrink. Een Vrydag het Jakob die bottel whisky gekoop en die volgende Vrydag Willem.
Hulle het baie ander dinge ook gedeel. Jakob het nog sy motor gehad en Willem het mildelik bygedra
tot die brandstof as daar gery moes word. Om Willem se vingerbord, weer, is daar soms daelange
wedstryde uitgespook. Hulle het na die nuus oor Jakob se radio geluister en na die godsdiens oor Willem
s'n. Hulle het Jakob se portrette van sy twee afgestorwe vroue teen die een muur gehang en Willem se
muurhorlosie teen die ander. Willem was nooit getroud nie.
Die weke het stadig maande geword, die lewe in Rusoord al lewe. Verveeld was hulle nooit; daar was
baie om mekaar te vertel: Jakob van sy jare as “treindrywer”, met die hoogtepunt in '47 toe hy gekies
is as een van die Koningstrein se “drywers”. Hierdie hoofstuk het hy dikwels herhaal. Willem se lewe
had nie juis hoogtepunte nie, maar daar gebeur darem baie ou dingetjies in die loop van veertig jaar
agter die toonbank van 'n landboukoöperasie.
Met die ander inwoners van die Rusoord het hulle goed klaargekom, alhoewel geen hegte vriendskappe
gesluit is nie
Oor een ding het Jakob vir Willem vroeg gewaarsku.
“Ek sê vir jou, 'n ou vrou kan 'n lawwe ding wees. En in hierdie plek sal 'n man moet keer of jou hoed is
af. Kyk maar hoe loop hulle hier in die gang verby, ingeprop in die borsrokke en met die blou hare. Vir
wat en vir wie? En vir wat dink jy word ons sodanig ingestop met lemoentjies en koekies en beskuit? Ek
sal jou sê vir wat - omdat 'n ou vrou 'n lawwe ding kan wees.”
“Lyk my ou Sarah hier langsaan het hoeka sin vir jou, Jakob.”
“Sy kan maar sin hê. Ek lê alleen op my kooi en ek lê soos ek wil. Sien jy kans vir trou op jou oudag?”
“Nee, Jakob.”
Daarmee was die saak afgehandel.
En toe, na goed vyf jaar van saambly, gaan hulle die ooreenkoms aan. Dit was die aand nadat een van
die oudste inwoners begrawe is.
“Ja, ou Willem, dit lê vir ons ook voor.”
“Ja, Jakob.”
Daar was nie haas in hul gesprekke nie.
“En hoe nader die einde kom, hoe meer wonder 'n mens ... "
“Dis waar, Jakob.”
“Party dae is ek niks bang nie; ander dae wil ek van my verstand af raak as ek net daaraan dink.”
“Ek ook maar, Jakob.”
“As 'n mens alles bymekaar reken wat jy gehoor het, moet daar darem seker iets wees, Willem.”